Pretoria FM onderhoud

Wat ‘n Aangename Verassing!


Sommer so uit die bloute het ons hierdie week ongelooflike blootstelling van ‘n plaaslike radiostasie gekry, toe hulle ons onverwags gebel het en gevra het om ‘n onderhoud met ons te voer. Ons is baie dankbaar vir PretoriaFM se uitnodiging en aangename onderhoud saam met Elsje van Jaarsveld. Dit was sommer ‘n lekker gesels!

Hulle was geinteresseerd in hoe OnlineArt.Gallery werk, watse dienste ons aanbied, en het ook heelwat vrae oor ons huidige Kunskompetisie gehad. Die vraag wat vir my die interessantste was, was hoe belangrik kuns gedurende ‘n pandemie is.

Luister gerus na die onderhoud hier, of lees uittreksels hieronder:

Wat is OnlineArt.Gallery, en hoe werk dit?
Ons is ‘n aanlyn gemeenskap van kunstenaars, kunsliefhebbers en kuns versamelaars. Ons streef daarna om dit maklik en toeganklik te maak vir almal om bekostigbare, kwaliteit, oorspronklike kunswerke van kontemporêre Suid Afrikaanse kunstenaars aanlyn te koop, en wêreldwyd by hulle huise afgelewer te kry.

Ons gee kunstenaars ‘n professionele, betroubare platform waar hulle hulle portefeulje en persoonlike kunswinkel / gallery kan hê, sonder enige maandelikse koste, met slegs ‘n marginale komissie op verkope.

Ons hanteer die admin, advertensies, betalings, verpakking en versending, sodat die kunstenaars uit die aard van die saak kan fokus op dit wat regtig belangrik is, naamlik om kreatief te wees, en kuns te produseer.

Vertel ons meer van die Kuns Kompetisie
Ons het die kompetisie geloods om OAG se 1 jaar herdenking te vier in Augustus, met die onthulling van die wenner. Dit is ‘n aanlyn nasionale kunskompetisie vir enige persoon oor 18 wat ‘n Suid Afrikaner is, en dit sluit hierdie Vrydag, so daar is nog meer as genoeg tyd om in te skryf! (julle is mos nou by die huis) Daar is ook ‘n R5000 prysgeld vir die wenner, wat baie handig sal inkom vir enige kunstenaar, spesiaal omdat almal gedurende hierdie tyd kan doen met ‘n ekstra geldjie.

Dit is altyd goed om aan ‘n kompetisie deel te neem. Dit push jou boundaries ‘n bietjie, jy doen iets nuut, dit gee vir jou blootstelling op ‘n nuwe platform, en dit is baie pret! Dit is ook ‘n heerlike uitlatingsklep vir kunstenaars in hierdie tyd.

Die Tema is “New Beginnings”, aanvanklik gekies vir ons nuwe besigheids avontuur, en toe tref die covid19 pandemie ons, wat die tema toe selfs meer relevant gemaak het, want die nuwe normaal sal seker nooit weer dieselfde wees nie.

Hoe belangrik is kuns gedurende hierdie Covod19?
Ek sou sê dit is van kardinale belang in hierdie tydperk. Ons word met so baie negatiewe dinge gebombardeer, en kuns is daardie een ligstraaltjie wat deurskyn, maar wat jou ook laat dink oor dinge.

Dit hang natuurlik ook af van jou rede vir kunsversameling. Vir party mense verskaf dit vreugde en vul hulle lewens met kleur, en vir ander mense is dit dalk meer sentimenteel. Kunstenaars word uiteraard geinspireer en beinvloed deur gebeurtenisse soos hierdie, en verewig dan hulle denke en emosies in n kunswerk. In ruil, sien mense dit, en vind aanklank op n emosionele vlak. Dit praat met jou. Dit raak hulle op ‘n manier wat hulle gerus laat voel, of laat dink, en dit is daardie emosionele konneksie wat mense gedurende hierdie tydperk verenig asook ‘n samehorigheid laat voel. Dit lig mense se gemoedere, en dit is hoekom kuns (of jy dit nou maak of dit versamel) so belangrik is.

d
c